Description
© P.J. Coetser, Pretoria 1987
Voorwoord –
Voorwoord (Kaleshaan)
Genealogiese navorsing verg tyd, opoffering, geld en baie geduld. Nieteenstaande genoemde faktore bly dit egter ’n interessante stokperdjie wat jare lank bedryf kan word. Jare lank in dié opsig dat ’n persoon altyd die stamboom op datum moet hou.
Skrywer, wat ’n nasaat in die negende geslag is van die stamvader Jacob Kützer wat in 1709 in die Kaap aangekom het, en ’n nasaat in die vyfde geslag van Kaleshaan, het daarin geslaag om sy eie geslagsregister volledig na te speur. Dieselfde register is dus ook volledig vir naas-familie soos neefs en kleinneefs, ooms, ensovoorts. Om ’n volledige stamboom van die duisende Coetsers en Coetzers saam te stel is wel moontlik hoewel dit ’n enorme taak sal wees.
Die stamvader van beide die Coetsers en die Coetzers was Jacob Kützer en soos gesien kan word, het sy van ondertussen ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Verskeie faktore het daartoe aanleiding gegee. Baie van die vroeë pioniers kon byvoorbeeld nie lees en skryf nie en gevolglik het die administratiewe beampte verantwoordelik vir die aantekening van ’n naam name neergeskryf soos hy die gehoor het. Dan is daar ook in die vroeë jare in die skryftaal nie veel onderskeid getref tussen ‘c’ en ‘k’, ‘ch’ en ‘g’, ‘s’ en ‘z’ en heel dikwels ook nie tussen ‘d’ en ’t’ nie.
Dit is onbekend hoeveel broers en susters die stamvader gehad het. Dokumente wat in die argief bewaar word, dui daarop dat hy die enigste Kützer is wat Suid-Afrika ingekom het.





